My ma het my twee keer lewe gegee

My ma het my twee keer lewe gegee

Hoe ’n familie en ’n apteek ’n oorplantingspasiënt help floreer

Maandag, 11 Augustus 2025 Toe Jeané Petzer op net sewejarige ouderdom met tipe-1 diabetes gediagnoseer is, het haar kinderdae skielik verander. In plaas van sorgvrye speletjies het haar lewe begin draai om insulieninspuitings, konstante bloedsuikertoetse en gereelde besoeke aan dokters en die apteektoonbank. Wat sy nie kon voorsien het nie, was hoe belangrik medikasie, mediese toestelle en haar ondersteuningsnetwerk nie net haar gesondheid nie, maar vir haar hele lewensreis sou wees.

Nou, op 32, is sy nie net ’n nieroorplantingsontvanger nie, maar ook ’n trotse ma, ’n voormalige onderwyseres en ’n baken van hoop vir ander wat worstel met ’n chroniese siekte.

Jeané se kinderjare is gekenmerk deur die daaglikse uitdagings van tipe-1 diabetes. Ondanks konstante vingerprikke en insulieninspuitings, het sy haar droom nagejaag en as grondslagfase-onderwyseres gekwalifiseer, waar sy met kinders tussen drie en vyf jaar gewerk het. Maar in 2018 het alles verander.

“Ek was skielik te swak om met die kleintjies by te hou. Selfs eenvoudige dinge soos om my bed op te maak of trappe te klim, het vir my onmoontlik gevoel. Ek het geweet iets is fout,” onthou sy. Sonder dat sy dit besef het, was dit die eerste tekens van nierversaking, ’n algemene komplikasie van diabetes.

In 2019, net ’n jaar ná haar troue, het Jeané ’n lewensreddende nieroorplanting ondergaan. Haar skenker? Haar ma wat elke tree van die pad saam met haar gestap het. “My ma het nie vir een oomblik gehuiwer nie. My familie is my alles en ons het dit almal saam gedoen. My man, ouers en suster was my grootste ondersteuners en was elke oomblik daar vir my. Ons het die ding saam geveg,” sê Jeané.

Hoewel die oorplanting suksesvol was, het die bestuur van haar gesondheid nie daar geëindig nie. Jeané moes steeds op mediese toestelle soos haar insulienpomp en voortdurende glukosemonitor staatmaak om haar diabetes te bestuur, terwyl sy aangepas het by die nuwe oorplantingsmedikasie. “Hierdie toestelle het vir my stabiliteit gebied tydens ’n tyd van totale omwenteling. Dit was nie nodig om veel aan my diabetesbestuur te verander nie, maar ek was vasbeslote om my nuwe nier te beskerm,” verduidelik sy.

’n Oorplanting het ook ’n lewenslange verbintenis tot immuunonderdrukkende terapie meegebring. Dit maak haar kwesbaar vir virusse en infeksies, wat beteken dat sy nie na die klaskamer kan terugkeer nie. “Ek mis dit om elke dag kinders te leer, maar my gesondheid kom eerste.”

Sy werk nou in haar pa se kantoor en van die huis af, wat haar in staat stel om produktiwiteit en selfversorging te balanseer.

Asof haar storie nie alreeds inspirerend genoeg is nie, het Jeané en haar man nog ’n uitdaging in die gesig gestaar. Haar nefroloog het ’n swangerskap as te hoë risiko beskou, weens haar diabetes en nieroorplanting.

Maar die lewe het ander planne gehad. ’n Hoërskoolvriendin het as surrogaat opgetree, en in Februarie 2022 het die egpaar hul wonderwerk verwelkom: ’n gesonde baba seuntjie, geneties die van Jeané en haar man. “Hy word vanjaar drie en hy is ons vreugde, ons antwoord op ons gebede,” glimlag sy.

Farmakologiese sorg en die rol van aptekers in oorplantings-pasiëntesorg

Oorplantingspasiënte soos Jeané moet daagliks medikasie gebruik om te verhoed dat hul liggaam die nuwe orgaan verwerp. Hierdie middels onderdruk die immuunstelsel, en selfs ’n eenvoudige infeksie kan gevaarlik wees.

Agter Jeané se storie is daar ’n toegewyde gesondheidspan, insluitend aptekers wat ’n sleutelrol in haar sorg speel. “Post-oorplantingspasiënte soos Jeané, benodig noukeurige beheer van hul medikasie om orgaanverwerping te voorkom,” verduidelik Eva Mpe, ’n spesialis-apteker by Medipost, Suid-Afrika se eerste afleweringsapteek.

Van die bestuur van komplekse medikasie, tot die opvoeding van pasiënte oor interaksies en newe-effekte, is die rol van aptekers hoogs gespesialiseerd.

“Ons sorg dat pasiënte hul immuniteit-onderdrukkende medikasie verstaan, presies hoe om dit te neem en waarom tydsberekening so belangrik is. Indien ‘n dosis oorgeslaan word, mag dit lei tot orgaanverwerping.

“’n Funksionerende, oorgeplante nier verhoog die insulien opruiming vanuit die bloedstroom, wat die basale glukosevlakke kan verlaag. Dit beteken dat insulien- of ander diabetes medikasie se dosisse aangepas moet word. Daarbenewens kan immuunonderdrukkers insuliensensitiwiteit beïnvloed en selfs post‑oorplantingsdiabetes (PTDM) veroorsaak, wat noukeurige monitering en ’n aangepaste behandeling vereis,” verduidelik Mpe.

Oorplantingspasiënte, veral dié op immuunonderdrukkers, loop die risiko om nuut-gediagnoseerde diabetes na oorplanting (NODAT) te ontwikkel. Om dit te bestuur verg ’n multidissiplinêre benadering, met samewerking tussen aptekers, endokrinoloë, nefroloë en dieetkundiges vir vroeë diagnose, voorkoming en behandeling.

“As apteker werk ek nou saam met spesialiste en oorplantingschirurge om medikasie op ’n veilige manier aan te pas. Ek maak aanbevelings gebaseer op die pasiënt se huidige medikasieprofiel en ko-morbiditeite, verifieer dosisse en rapporteer enige newe‑effekte wat ervaar word. Tydsberekening is van uiterste belang. Net een enkele oorgeslane dosis kan ernstige komplikasies veroorsaak. Dit is ons werk om te verseker dat pasiënte die regte medikasie op die regte tyd kry,” voeg Mpe by.

Medipost apteek lewer nie net chroniese medikasie direk aan pasiënte se huise af nie, maar bied ook advies en ondersteuning in al 11 landstale.

“Vir iemand soos ek met ’n onderdrukte immuunstelsel, beteken dit alles om my medikasie veilig by die huis te ontvang. Ek vertrou daarop om my lewe en gesondheid te beskerm. Elke tablet, elke ondersoek en elke voorsorgmaatreël is my manier om dié nuwe nier te eer. Ek is vandag hier, nie net as gevolg van die operasie nie, maar danksy elke lid van my gesondheidsorgspan, my ma, my dokters, my toegewyde aptekers én God,” sê Jeané.

“Ons lewer nie net medikasie af nie, ons bring gemoedsrus en ondersteuning aan duisende Suid-Afrikaners, soos Jeané, wat op chroniese medikasie staatmaak om te leef, gesond te word en te floreer,” sluit Mpe af.

Eindig.

Vir media-navrae, kontak asseblief MNA by die onderstaande kontakbesonderhede:

 

Uitgereik deur:

MNA namens Medipost-apteek

Vir media-navrae, kontak gerus: 

Martina Nicholson, Meggan Saville, Estene Lotriet-Vorster

of Natasha Burger

Telefoon:

011 469 3016

E-pos:

connect@mnapr.co.za